My “stompies” is al lankal in die hemel

‘n Ware verhaal deur ‘n pastoor vertel.

Elkeen het nou ‘n plek – party sit voor, die ander agter en daar is selfs twee wat ‘n plekkie op die vloer het. Uiteindelik is almal uit die bus sodat ek die register kan lees om te sien of almal daar is.

“Daar kom Wynand, hy’s alweer laat!” : sê een. Ek sien egter dat daar nog 10 minute voor vertrektyd is.

“Nou het julle 5 minute om toilet toe te gaan en almal moet gaan!!” Vir almal is dit ‘n groot grap, maar om ‘n toilet tussen niks en nerêns in die Noord-Kaap te kry, is nie ‘n grap nie. Dan is dit 9-uur en vertrektyd!!!

Almal vat hande en die Liewe Vader se beskerming en seën word gevra. Net ‘n minuut word toegelaat om te groet. ‘n Minuut is egter te lank vir die kinders – mammas en pappas staan verstom-verslae om geen traan of hartseer by die kinders te sien nie, maar eerder ‘n “oorhaastigheid” om weg te kom. Dan is ons oppad ….. en van die ouers is saam met ons oppad, tot sover as 30 kilometer vanaf Kimberley!!!

Selfs die kinders kan dit nie glo nie.

Dit is net na twee in die oggend en nog steeds, het Klaasvakie nie die toergroep oppad, na die Burgerstrandhuis, in Kaapstad besoek nie. Die opgewondheid in die bus is groot – so groot dat een nie eers agterkom hy het sy donkerbrille op nie. Van hierdie graad 7-klas is daar leerlinge wat vir die eerste maal die see gaan sien. Dan sien ek Deonette in die paadjie, tussen die banke, aangeseil kom op haar boudjies. Weens ‘n seldsame siekte op die ouderdom van ongeveer 3 jaar, is beide haar beentjies onder haar knieë geamputeer en aan beide hande is drie vingertjies ook geamputeer. As gevolg van hierdie toestand (liggaamlike gebrek) is sy deur haar ouers verwerp en in ‘n tehuis geplaas. Dan is sy langs my met ‘n kussing in haar mond. Kan ek maar by Mnr. sit? – wil sy weet. Ek is maar te dankbaar – iemand om my wakker te hou. Ek gee vir haar my “weermag jas” om haar warm te hou. Sy voel in die sakke en haal my Gideons Bybel’tjie uit – dit gee my die geleentheid om te getuig hoe ek wedergebore is, en hoe Jesus die bybel’tjie gebruik het. Sy is so aangeraak en ek nou helder wakker. Sy wil weet na wie ek luister op my “walkman”. Ek laat die bandjie terugloop en laat haar luister na Danie Botha se “Honestly Jesus You can strip me to the Core”. Skielik begin sy saggies te huil.

“Mnr., Liewe Jesus het my klaar “gestrip”. Sy haal die jas van haar af en hou haar Stompies (geamputeerde beentjies) styf vas met haar verwronge handjies. Ek kyk af na hierdie hartverskeurende werklikheid, begin saggies saam met haar huil en trek haar styf teen my vas met my linkerarm. Hardop begin ek met my Vader redeneer. Wat van haar sottekonsertdans, haar matriekafskeiddans, sy is binnekort ‘n volwasse vrou? Sy sal mos ook graag binnekort vroulik wil aantrek of dalk ‘n “jean” wil aanpas. Nou loop die trane sonder keer. “Here Jesus, hoe kon dit gebeur, hoe kan dit wees, dat hierdie “halwe mensie”, ten spyte van verwerping en al haar gebreke nogtans so lekker uit haar maag lag em met haar maats kan skerts?” Ek hoor dat sy sagter snik en voel hoe sy haar gesiggie teen my hemp afdroog. Dan weer half uitasem: “Ek is klaar gestrip”.

‘n Lang stilte volg. Ek gee vir haar toilet papier om haar neusie te blaas, tel haar op en laat haar op my linkerbeen sit. Ek kyk af en sien die twee rye trane op haar wangetjies. Ek begin bid en vra vir antwoorde, ook dat die Liewe Vader van hierdie twee rye trane reënboë moet maak, haar trane sal opvang en kristalle daarvan maak.

Skielik kom die antwoorde duidelik:

Joh 13:7 [… dit wat nou met jou gebeur sal jy nie nou verstaan nie, maar wel later.]

Sag 2:8 [… jy is My oogappel…]

Jes 43:1-5 [… jy is Myne, jy is kostelik in My oë …] Ek begin deel met haar soos die Gees van God my lei met betrekking tot verheerlikte liggame in die Hemel.

En skielik kom die trane weer, maar trane van blydskap “Mnr., my Stompies gaan lank wees in die Hemel”. Nou het sy my om die nek en huil ons saam om dankie te sê vir Jesus!! Sy neem die “walkman” plaas dit weer op haar ore en luister verder. Skielik kry haar Stompies lewe, dit wip op en af. Sy sing hardop saam “… die Here maak my voete soos die van ‘n Ribbok …” Ek kyk af, en in die Gees sien ek ‘n gesig wat ek nooit sal kan vergeet, of in “detail” kan beskryf of verduidelik nie – daar’s voetjies aan die Stompies!!!

Gebed: Here Jesus al is ons stukkend en “gestrip” weet ons U sal ons weer heel maak! Here maak ons voete weer soos die van ‘n ribbok… Vader wees ons asseblief genadig. Amen…

Posted in News.